Danksy ’n deeglike onderbou in beesteling kry die Noord-Kapenaar mnr. Christopher Havenga dit reg om keer op keer ’n kolskoot te tref met sy Boerboelteling.
Die Havengas het duisende kilometer afgelê om die telery tot op dié vlak uit te bou – met ’n wêreldkampioen waarmee hy nou net teel. Die Boerboel CDH Bullet se opgang op skoue het in 2019 al groot belofte getoon toe hy in die klas vir grootkampioenreun die reserwekampioen was.
In 2020 is die skoue van die Suid-Afrikaanse Boerboeltelersvereniging (SABBS) weens die covid-19-beperkings afgelas. In 2021 is CDH Bullet se skouloopbaan op die internasionale SABBS-kampioenskapsbyeenkoms op Parys op ’n hoogtepunt afgesluit toe hy as senior en grootkampioenreun aangewys is.