
Dít was die reaksie van mnr. Andrew Hoggard, president van Federated Farmers, die grootste verteenwoordigende liggaam vir boere in Nieu-Seeland, ná ’n voorstel Dinsdag (11 Oktober) deur die regering om die kweekhuisgasse wat plaasdiere deur middel van winde opbreek en urine vrystel, te belas. Dit vorm deel van ’n plan om Nieu-Seeland teen 2050 koolstof-neutraal te maak en is volgens die eerste minister, me. Jacinda Ardern, se regerende Arbeidersparty die eerste heffing ter wêreld om boerdery se impak op kweekhuisgasse teen te werk. Sy beoog dat al die geld wat deur hierdie belasting ingesamel word, weer terug in die landbou belê sal word.
In dié landjie waar die landbou een van die vernaamste ekonomiese aktiwiteite is, is daar luidens ’n berig van Associated Press sowat 5 miljoen mense teenoor 10 miljoen beeste en 26 miljoen skape. Dit plaas Nieu-Seeland in die ongewone situasie dat omtrent die helfte van sy kweekhuisgasvrystellings van plase af kom, terwyl dit in ’n land soos Suid-Afrika skaars ’n rol speel. In Suid-Afrika is dit eerder steenkoolkragsentrales wat kweekhuisgasse vrystel.
Volgens die Nieu-Seelandse regering sal boere die heffing se koste kan teenwerk deur meer geld vir hul klimaatvriendelike produkte te vra. Maar boere is woedend en volgens Hoggard sal boere ophou boer en boerderye sal deur bome vervang word. “Ons het meer as twee jaar lank met die regering probeer saamwerk om ’n plan te vind om kweekhuisgasse te verminder sonder om voedselproduksie in te kort. Hierdie belasting sal die hart uit die land se plattelandse gemeenskappe ruk.”
‘Poepbelasting’
Opposisiepartye het spottenderwys na beoogde heffing, wat moontlik in 2025 van krag sal word, as die “poepbelasting” (fart tax) verwys, hoewel dit eerder die winde (burps) is wat herkouers soos beeste opbreek, wat metaangas vrystel. Volgens die konserwatiewe ACT-party sal die voorgenome belasting eerder die wêreldwye vrystelling van metaangas bevorder omdat landboubedrywighede verskuif sal word na ander lande wat dieselfde voedsel minder doeltreffend sal produseer.
Dr. Hendrik Smith, bewaringslandboufasiliteerder by ASSET Research en die Mielietrust en een van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van koolstofbewaring, sê die aanname dat diere se mis en urine skadelik vir die omgewing is, kom op ’n veralgemening neer.
Navorsing wat hy en sy span in Suid-Afrika gedoen het, toon as jy ultrahoëdrukbeweiding (UHDB) beoefen en jou grond is gesond, met genoeg insekte soos miskruiers wat mis en urine diep in die grond inwerk, tesame met die praktyke soos UHDB wat jy beoefen om jou grond se gesondheid te verhoog, kan jy meer koolstof in die grond bewaar as die hoeveelheid koolsuurgas wat die beeste vrylaat.
Op sy beurt het die herlewingslandboupraktisyn mnr. DF Fyfer van Betjane Cattle Company gesê die lineêre denke wat voorstanders van koolstofbelasting beoefen, is problematies. Die regering behoort eerder praktyke soos herlewingslandbou aan te moedig as om boere te belas wat die bevolking voed. Hy wys daarop dat die wêreld se koolstofvlakke tydens die covid-19-inperkings in die stede en nywerheidsgebiede drasties afgeneem het, maar boere het aanhou boer en daar is nie sulke data by hulle aangeteken nie.
“Ek stel voor die voorstanders van hierdie belasting maak hulself in ’n motorhuis toe, skakel die kar aan en gaan staan agter die uitlaatpyp. Ek sal dieselfde met een van my koeie doen en dan kyk ons wie kry die swaarste.”