
Die Suid-Kaap Bonsmaraklub het ‘n baie suksesvolle boeredag gehou te Kansa-veilingkrale, Oudtshoorn op 24 Oktober 2013.
Die doel van die dag was om die uitnemendheid van die Bonsmara wyer bekend te maak en om die ras te bevorder en sommer om lekker saam te kuier en mekaar beter te leer ken.
Ongeveer 70 klublede, genooide sprekers en belangstellendes het die byeenkoms bygewoon. Hulle het gekom van so ver as Pretoria, Vrede, Bethlehem, Humansdorp, Grahamstad, Fraserburg, Swellendam en Uniondale.
Die klub het bekende en gerespekteerde sprekers uitgenooi om die boere te leer oor belangrike aspekte rakende vleisbeesboerdery.
Dr. Faffa Malan het meer kom vertel oor “Biosekuriteit - die sleutel tot winsgewende boerdery”.
Dr. Japie van der Westhuizen van SA Stamboek het gesels oor “Genomika” en teelwaardes.
Mnr. Arthur de Villiers het sy ondervinding gedeel oor “Praktiese bulbestuur” en het die praktiese demonstrasie gelei.
Mnr. Charl van Rooyen van Bonsmara SA het vertel van “Produksiestelsels” en hoekom jy met Bonsmaras moet boer.
Die dag is afgesluit met ‘n lekker steak-ete en verversings.
Die klub is baie dankbaar vir die borge wat die dag moontlik gemaak het naamlik: Afrivet, Nedbank, Molatek, GWK, Landmark en BP.
Byskrif: Van links is dr. Japie van der Westhuizen, mnre. Arthur de Villiers, Charl van Rooyen, dr. Faffa Malan en mnr. Hennie Potgieter (Programleier en organiseerder). Op die onderste foto is van die aanwesiges. Foto's: Lourens Eales