
Dié Simmentalerbul van mnr. Andrew Masterson van die Milagro-stoetery naby Oesterbaai in die Oos-Kaap is op sosiale media deur internasionale telers raakgesien.
Masterson se veeteelt-vernuf het hom al verskeie pryse en goue bekers op interrasskoue besorg. Hy is nie net ’n bekwame melkbeesteler nie, maar sy Angus- en Simmentaler-stoeterye presteer gereeld op skoue. Op vanjaar se Royalskou in Pietermaritzburg was Masterson die eerste teler in die skou se bestaan wat die goue beker vir die opperste kampioenbul én -koei van twee verskillende rasse verower het. Sy swart Angusbul Milagro Quebec ACM17-04 en Simmentalerkoei Milagro Amy ACM14-71 het dié prestasie behaal.
Dit was egter die bul Milagro Premier ACM 16-44 wat behoorlik die aandag getrek het op die drie dae lange skou. Premier is gekies as Landbouweekblad en Breedplan se wen-bul op die Royalskou deur die interrasbeoordelaars mnre. Herman Duvenhage en Christopher Havenga. Premier het tydens die Simmentalerras-beoordeling die eerste plek behaal in die klas vir bulle van 32 tot 36 maande. Duvenhage was teleurgesteld dat ’n bul van dié gehalte nie in die individuele klasse te sien was nie. “Hy sou ’n goeie kans gehad het om die goue beker te wen.”
Premier het al vantevore met die louere as grootkampioen-Simmentalerbul weggestap. Hy het dié prys ook onlangs op die Bloemskou gekry.
Sosiale media
Masterson se vrou, Colette, het tydens die beoordeling op die Royalskou ’n foto van Premier geneem en dit op Milagro se Facebookblad geplaas. Simmentalertelers uit Kanada en Amerika het die bul raakgesien en dadelik met Milagro kontak gemaak.
“Dit is opwindend, want Premier kom uit ’n gedugte bloedlyn en was die enigste bulkalf wat gebore is uit sy ma, Milagro Sandra ACM14-24, se embriospoeling as ’n 15 maande oue vers. Vanweë die belangstelling het ons dit oorweeg om ons top-Simmentalerkoeie te spoel, en daarna embrio’s met Premier se saad uit te voer. Dit is die enigste manier waarop ons Premier se genetika in die buiteland sal kan kry,” verduidelik Colette.
Milagro Premier se Blup-toetse toon dat hy bogemiddelde ekonomiese teelwaardes het vir groei op 200, 400 en 600 dae. Sy vrugbaarheidseienskappe, wat skrotumomtrek en dae tot kalwing insluit, is ook bogemiddeld.
Milagro Premier is nou 'n finalis vir die nasionale Landbouweekblad en Breedplan Bul van die Jaar-kompetisie, saam met wenners op ander groot skoue wat in Suid-Afrika en Namibië gehou word. Die algehele wenner word op 17 Oktober tydens die Aldam Veeskool bekend gemaak.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.