Die invloed van genetiese defekte by beeste moet hoegenaamd nie onderskat word nie. By die Landbounavorsingsraad (LNR) het ons te doen gekry met ’n bul waarvan die penis skeef was.
Die beoordeling van diere vir funksionele doeltreffendheid het die geheime estetika van beoordeling op skoue na ’n meer wetenskaplike vlak geneem. Skoubeoordelaars kyk vandag meer na eienskappe wat met produksie gekoppel is, met inagneming van die fisiologie, endokrinologie, anatomie en die funksionele doeltreffendheid van ’n dier.
Rasinspekteurs wat diere voor ’n veiling inspekteer, behoort dieselfde benadering te volg. Deur bloot te sê dit is ’n mooi dier, is nie meer goed genoeg nie. Terwyl dit nou weer tyd is om bulle te koop, is dit belangrik dat bulkopers weer van genetiese defekte kennis neem.