Volgens mnr. Deon Saayman, bestuurder by Cape Wools, het die bedryf eers op Vrydag 6 Mei terugvoer van China ontvang oor die verbod op diere met gesplete kloue en die produkte van sulke diere wat dié land op 1 April aangekondig het.
Volgens die kennisgewing kan verwerkte wol nou na China uitgevoer word, maar nie onverwerkte wol nie. Suid-Afrika voer egter nie eens 1% verwerkte wol uit nie. Dit is egter goeie nuus vir die bokhaarbedryf, wat hoofsaaklik verwerkte bokhaar na China uitvoer.
Saayman sê die verbod ingevolge die nuwe kennisgewing maak nie logies sin wat regulasies en maatreëls van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) en die wêreldhandelsorganisasie betref nie.