
Die saak het gehandel rondom die ernstige verwaarlosing en mishandeling van varke op ’n plaas in die distrik Brandfort.
Die saak dateer van 2016 nadat die me. Mpho Mokoena, ’n DBV-inspekteur, ’n klag ontvang het dat varke op die plaas verhonger.
Tydens die ondersoek het dit aan die lig gekom dat die plaas verlate en besaai is met die karkasse van varke wat op die oog af van honger gevrek het. Die 16 varke wat nog gelewe het, is in haglike omstandighede aangehou. Hulle het aan die karkasse begin vreet. Hierdie varke is van kant gemaak word nadat die DBV ’n lasbrief verkry het.
Vyf begunstigdes van die plaas het daarna ’n saak by die plaaslike polisiekantoor aanhangig gemaak rakende die varke. Mokoena het al vyf van dieremishandeling laat aankla.
Die klagte is later weens verskeie redes, insluitende gesondheid, teen vier van die beskuldiges laat vaar, maar die oorblywende begunstigde is skuldig bevind aan dieremishandeling en tot 30 maande gevangennisstraf, opgeskort vir vier jaar, gevonnis.
Die DBV sê in ’n verklaring die skuldigbevinding stuur ’n duidelike boodskap uit dat dieremishandeling nie geduld sal word nie.
Me. Kesvhi Nair, woordvoerder van die DBV, sê al hoe meer sake van dieremishandeling kom voor en dat dat die DBV sal voortgaan om elke saak te ondersoek en klagte teen oortreders te lê. “Ongeag of daar ondersteuning van die regering se kant af is of nie, die welstand van jou diere bly die eienaar se verantwoordelikheid en ’n gebrek aan ondersteuning is nie ’n verontskuldiging nie.”
Mokoena sê dit verg krag om voor ’n hof te staan en te veg vir geregtigheid. “Die belangrikste is dat dit die ondersteuning van die publiek verg.Sonder hul finansiering kan ons as inspekteurs nie die harde werk doen wat nodig is om diere te beskerm nie.”
Begunstigdes eintlik die slagoffers
Intussen sê dr. Roy Jankielson, provinsiale leier van die DA in die Vrystaat, dat die begunstigdes en hul vee die eintlike slagoffers is van ’n regering wat homself nie minder kan skeel oor hulle nie.
“Die begunstigde-projekte in die Vrystaat het eintlik net een doelwit en dit is om kaders binne die parlement en hul trawante buite die parlement te verryk. Daar word massiewe kontrakte vir infrastruktuur en dienste gedurende die projekte aangegaan en sodra die geld oorbetaal is, word ondersteuning eenvoudig onttrek en die begunstigdes sit met niks.”
Jankielson sê daar is talle voorbeelde van hierdie tipe projekte reg oor die Vrystaat, insluitende die bekende Vrede-melkplaas, ‘n projek tussen Harrismith en Kestel wat onder meer uit ’n melkery en appelboorde bestaan, ’n pluimveeprojek naby Virginia en die Bethulie-visverwerkingsaanleg.
“Die Harrismith-projek alleen was rondom R150 miljoen, maar daar het niks van oorgebly nie. Die melkery is net so laat staan, terwyl al die nette oor die appelboord verwyder is en die bome verdroog het. Dieselfde het by die Virginia-projek, waar tiene miljoene rande bestee is, plaasgevind. Daar is nie ’n enkele hoender in die rye batterye wat opgerig is nie.”
Intussen bly begunstigdes van hierdie projekte sonder ’n inkomste.
Mnr. Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier, het tydens sy provinsiale rede gesê die regering het tot Maart 2022 139 plase in die Vrystaat aangekoop.
Jankielson sê nie een daarvan het tot ’n suksesvolle kommersiële boerdery gelei het nie.
“Die oplossing sou wees om boere op hierdie plase te vestig wat reeds ervaring van boerdery het en wat die plase in kommersiële familieboerdery kan omskep. Hierdie boere sal uiteraard die titelakte van die plaas moet ontvang, ondersteuning deur opleiding en voorligtingsdienste moet hê en uiteindelik op hul eie voete kan staan. Dit is al hoe ons minder van heirdie gevalle in die toekoms sal sien.”