
Luidens ’n verklaring deur die DBV is hy op 3 Mei ingelig dat navorsings- en produksiediere by die instituut nie gevoer of vir siektes behandel word nie weens ondoeltreffend aankope van medisyne en voer.
Die DBV het vasgestel dat die voervoorraad byna uitgeput was. Daar is ook bevind dat koeie met mastitis nie voldoende behandel is nie omdat die regte medisyne nie betyds aangekoop is nie. Die DBV het ook kalwers aangetref wat aan diarree gely het en nie voldoende behandel is nie.
Volgens die DBV is ’n waarskuwing aan prof. Norman Maiwashe, hoofbestuurder van diereproduksie, gegee waarin hy opdrag gegee is om die nodige medisyne vir die koeie en kalwers, asook voer vir die diere op die perseel aan te koop.
“Die DBV meen die ondoeltreffendheid met aankope moes lankal reggestel gewees het aangesien dit nie die eerste keer is dat die instituut gewaarsku is om betyds genoeg voer vir sy diere aan te koop nie. Maiwashe het dit erken en beloof om voer en medisyne deur ’n noodproses aan te koop.”
Nadat die DBV geen terugvoering oor die aankope ontvang het nie, is die ondersoek voortgesit. Daar is vasgestel dat die voervoorraad heeltemal uitgeput en siek diere steeds nie voldoende behandel is nie. Volgens die DBV het van die instituut se personeel probeer om alternatiewe voer vir die diere te vind en enige beskikbare medisyne aan siek diere gegee.
“Die instituut is ’n semi-staatsinstelling. Dit is veronderstel om ’n vlagskip-instelling vir diereproduksie te wees waar opleiding aan landboustudente verskaf en ’n voorbeeld vir ander instellings gestel word. Die gebrek aan dieresorg is beslis nie die voorbeeld wat gestel moet word nie,” sê mnr. Lebo Sentle, bestuurder van die DBV se eenheid vir diere-etiek.
“Die instituut se nonchalante benadering tot die honger en pyn van sy diere is onaanvaarbaar. As ’n gevestigde navorsings- en produksie-instelling moet sy huis in orde wees om diere se lyding te voorkom.”
Maiwashe het gister aan Landbou.com gesê dat die instituut se voer- en medisynevoorraad aangevul is en dat ’n proses onderneem is om die nodige maatreëls in te stel om te verseker dat die kritiese drumpel vir sy voerreserwes verhoog word.