
Volgens mnr. Deon Saayman, besturende direkteur van Cape Wools, is dit nie ’n algehele opheffing van die verbod op produkte van diere met gesplete kloue nie, en is daar sekere vereistes waaraan die produkte moet voldoen.
“Die aankondiging is ’n baie gunstige tree vorentoe in die onderhandelings met China, maar daar is baie spesifieke temperatuurtoestande wat nagekom moet word voor die uitvoer van vetwol en -bokhaar kan voortgaan.”
Dit beteken die produkte moet ’n prosedure ondergaan om die bek-en-klouseervirus te neutraliseer. Daarvolgens sal die wol of bokhaar óf verwerk, óf teen ’n sekere temperatuur gestoor moet word.
Volgens Saayman is dit ’n reuse-oorwinning vir bokhaar wat hoofsaaklik in ’n verwerkte vorm na China uitgevoer word.
Skaapwol
Skaapwol word egter meestal in rou vorm uitgevoer, en dit is moeilik om te verifieer of die wol die nodige prosedures vir die neutralisering van die virus ondergaan het.
Luidens ’n verklaring van Cape Wools het hy inligting ontvang dat ’n Chinese afvaardiging moontlik Suid-Afrika kan besoek om hulle eie inspeksie uit te voer, maar hulle wag nog op meer inligting.
Die prosedures vir die neutralisering van die bek-en-klouseervirus in wol en bokhaar volgens die OIE behels:
1. Industriële was, wat die dompeling van wol in ’n reeks baddens met water, seep en natriumhidroksied (seepsoda) of kaliumhidroksied (potas) behels.
2. Chemiese ontharing deur middel van gebluste kalk of natriumsulfied.
3. Beroking met formalien in ’n lugdigte kamer vir minstens 24 uur.
4. Industriële skuring, wat die dompeling van wol in ’n wateroplosbare skoonmaakmiddel by ’n temperatuur van 60 °C tot 70 °C behels.
5. Die stoor van wol by 4 °C vir vier maande, 18 °C vir vier weke of 37 °C vir agt dae.
Bron: bit.ly/2Jh6rh7.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.