
Die gebied is einde Mei vir ’n groot deel van die provinsie afgekondig nadat ’n uitbreking van die siekte by Mtubatuba bevestig is.
In ’n verklaring sê me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, op grond van die resultate van die tweede reeks serologiese toetse vir bek-en-klouseer is besluit om die gebied te verklein.
Die toetse toon dat bek-en-klouseer in die gebied steeds tot twee stelle kommunale diptenks in die omgewing van Mtubatuba en Nongoma beperk is. Dit toon dat die tydelike beperking op die beweging van diere uit, binne, deur en na die gebied voldoende was om te voorkom dat die siekte versprei.
Luidens die verklaring is bek-en-klouseer van einde Mei tot 7 September op 29 plekke in KwaZulu-Natal bevestig is. Altesaam 27 hiervan was by twee stelle kommunale diptenks in die gebied, terwyl twee by kommersiële voerkrale buite die gebied, maar steeds binne die provinsie was.
Die plaaslike munisipaliteite Umhlabuyalingana, Jozini, eDumbe, Abaqulusi, Nkandla, Mthonjaneni en uMlalazi is nou almal vrygestel van die bestuursgebied en die verwante beperkings weens bek-en-klouseer op die beweging van vee.
Die verkleinde gebied sluit nou in gedeeltes van die plaaslike munisipaliteite Pongola, Groot Vyf Hlabisa en uMhlathuze, die hele Hluhluwe-Imfolozipark en die hele plaaslike munisipaliteite Nongoma, Mtubatuba en Mfolozi.
Luidens die verklaring is daar steeds tekens dat die bek-en-klouseervirus binne die twee stelle kommunale diptenks by Mtubatuba en Nongoma versprei.
Die verskuiwing van diere met gesplete hoewe en hul produkte na, uit, deur of binne die verkleinde gebied word slegs toegelaat op grond van ’n permit wat deur die veeartsenykundige dienste in die gebied uitgereik is.
Landbouweekblad het vroeër berig dat vee-eienaars op alle produksieskale binne die oorspronklike bek-en-klouseerbestuursgebied in KwaZulu-Natal onder groot finansiële druk verkeer, meestal omdat hulle nie diere uit die beheergebied kon verkoop nie weens die verbod op die verskuiwing van diere. Veeboere in die kleiner gebied word steeds nadelig beïnvloed.