Eens ’n onwelkome “gas” in ’n nasionale park – maar nou is die Tankwa-bok ’n kandidaat om ’n oplossing vir boere in droë dele van Suider-Afrika te bied. Sy vrugbaarheid, goeie moedereienskappe, weerstand teen siektes en parasiete, en vermoë om uiterste temperature die hoof te bied, maak dié inheemse bok ’n geskikte kuddedier waarmee Noord-Kaapse boere in droër streke kan floreer.
Sy gehardheid en oorlewingsvermoë kan volgens kenners groter voedselsekerheid meebring, hoewel die vraag na lewende bokke egter nog hoër is as vir bokvleis op winkelrakke. Landbou-amptenare en ander betrokkenes wil die bok binnekort as ’n land- ras registreer.
Volgens een kenner is dit moontlik “die mees nagevorste inheemse bok waarmee in Suid-Afrika geboer word”. Jare lange navorsing het bevind dit is ’n geharde kuddedier wat ideaal vir Suider-Afrika se moeilike droër ekologiese toestande is.