Mnr. Frans Marx (73) en sy seun Andries (38) van die plaas Sewefontein gebruik ’n ope kernteelstelsel wat toelaat dat die gene van hul 3 500 kommersiële ooie (sonder beste lineêre onsydige beraming- of BLUP-syfers) na hul stoetkudde van 800 ooie vloei.
Die ram SD5-15 is vroeër vanjaar teen ’n wêreldrekordprys van R335 000 op die nasionale Dohne-Merinoveiling verkoop. Dié teelstelsel vul hul benadering aan om vir aanpasbaarheid te selekteer as ’n voor vereiste vir die gebruik van BLUP.
“Ja, BLUP is ’n ongelooflike hulpmiddel, maar jy kry skape met baie hoë BLUP-syfers wat nie by die streek aangepas is nie. Kyk dus eers na na aanpasbaarheid, dan na BLUP,” sê Frans.