
Die Suid-Afrikaanse skaapskeer-en-wolhanteringskampioenskap by die Bloemskou is afgelas weens ’n staking deur die deelnemers wat onder meer ’n astronomiese verhoging in prysgeld en optreegeld geëis het.
Die Back to Back-aanbieding van CMW het daarna vir die skou se skeerhoogtepunt gesorg toe ’n ooi met ’n vag van ouer as ses jaar (72 maande tot 75 maande) die eerste keer in haar lewe geskeer is.
Dollie, ’n Merino-ooi van die plaas Rondom by Loxton, is spesiaal deur CMW na die skou gebring om die verwerkingsproses van vesel van die dier se rug te illustreer tot dit as kledingstukke deur verbruikers benut word. Dollie, die eiendom van mnr. Henk Cloete en sy vrou, Jeanette, het voor die voor die “groot skeer” die skaal op 73,5 kg laat stilstaan en daarná op 52,5 kg, wat haar vag op ’n allemintige 21 kg te staan gebring het.
Beskermende skaapjassieToe Dollie voor die tyd tydens die Merino Classic ten toon gestel is en sy dikwels onder die gewig van die vag soos ’n broeis hen bly lê het, is die vag se lengte op plekke tot meer as 40?cm lank gemeet. Ná die skeerdery is sy in ’n beskermende skaapjassie toegewikkel om haar sensitiewe vel teen die elemente te beskerm.
As ’n hanslam het Dollie meer as ’n jaar tussen melkbokke gewei. Toe sy na ’n skaaptrop verskuif is, het sy na die bokke bly terugloop. Cloete sê die bokmelk het haar immuniteit opgebou. “Sy was nog nooit in haar lewe siek nie.” Sy het die afgelope ses jaar ook nog nooit gelam nie. Hoewel haar wol baie fyn en sag is, het dit nog nooit ’n breuk getoon nie. Cloete sê dit gebeur gewoonlik net met skape wat sterker wol het.
“Ek wou kyk hoe ver ek die eksperiment kon voer voor dit breek. Nou wil ek dit nie meer verder waag nie.” Hy sê voeding het ’n baie belangrike rol in Dollie se gunstige wolgroei gespeel. Haar eetgewoontes kos hom egter ook baie geld. “Sy blêr as haar voerbak leeg is. As dit vol is, bly sy stil.”
Indien 60% van Dollie se vag as skoonwol benut kan word, beteken haar wolkleed van 21 kg dat sowat 12 tot 13 manspakke daaruit vervaardig kan word.