Die broers mnre. Gielie en Barrie van Zyl dra hul Johstep-stoetery se eerste Elite-koei op aan hul pa, wyle mnr. Johannes Stephanus (Hannes) van Zyl, die stigter van die stoetery en na wie dit ook genoem is. Hannes, wat in 1982 oorlede is toe die broers nog jonk was, het sy liefde vir vee vroeg by hulle ingeprent.
Die Van Zyls beskou hulself as heeltydse boere, al woon hulle in Kimberley waar hulle sakebelange in die vleiskleinhandel het. Die plaas is sowat 60 km buite die stad en hulle gaan gereeld soontoe.
Twee staatmakers met onderskeidelik 13 en 19 jaar diens, mnre. Lucas Celiselo en Khrisjan Bacela, hou tussendeur daar die fort. Gielie het al in die 1980’s ’n South Devon- stoetery bedryf, maar dit het tot stilstand gekom.