In ’n bedryf wat dikwels die wind van voor kry, het mnr. JK Basson van Darling die buitengewone reggekry. Binne ’n dekade het hy twee keer die kroon gedra as Nasionale Meestersuiwelboer van die Jaar – ’n prestasie wat min hom kan nadoen.
Tog sê dié nederige 48-jarige boer van die plaas Swartwater buite Darling gou hy is gelukkig om dié prestasies te kon behaal. “Daar is baie ander melkboere wat dit ook sou kon doen – en dalk nog beter boere as ek.”
Hoewel party melkboere soms half beswaard oor die bedryf is omdat produksiekoste en melkpryse nie tred hou met mekaar nie, is JK optimisties. “Ek is baie optimisties oor die landbou in Suid-Afrika in die algemeen, en veral die suiwelbedryf.