
“Mense begin bekommer raak oor globale verwarming en klimaatsverandering en dit lei tot mark- en wetgewende druk. Ons sien maandeliks hoe handelsmerke wat baie wol gebruik, verbintenisse maak om koolstofneutraal te wees teen ’n sekere tydperk,” het mnr. Angus Ireland, voorsitter van die werksgroep vir volhoubare praktyke by die Internasionale Woltekstielorganisasie, onlangs by die organisasie se jaarkongres gesê.
Om marktoegang te behou sal die wolbedryf dus proaktief moet wees deur ernstige stappe te doen om sy omgewingspoor en kweekhuisgasvrystellings te verminder.
Die Europese Unie wil fast fashion aanpak deur etikette gekoppel aan kleure aan kledingstukke te plaas wat die grootte van hul omgewingspoor toon, met die hoop dat kopers die planeet sal kies en groen etikette sal koop wat ’n goeie spoor aandui, en die rooi etikette wat ’n slegte omgewingspoor toon, op die rak sal laat.
Vir die etikette word 16 omgewingsmaatstawwe oor die volle gebruiksduur van klere gemeet, en vir wol, van die plaas tot aan die einde van hul gebruiksduur.
Die Europese Unie beoog om fast fashion met die wetgewing aan te pak, sodat klere vervaardig sal word wat langer hou en uiteindelik herwinbaar is, met hergebruikdienste wat wyd beskikbaar is om die gebruiksduur van die klere te verleng.
Volgens Ireland het fast fashion, waar mense ál meer klere koop wat hulle minder dra, in 2000 begin toeneem namate die gebruik van poliëster begin toeneem het. Dié tekstiel het verskeie nadele, soos dat dit vervaardig word van fossielbrandstowwe, ’n bron is van mikroplastiekbesoedeling en beland in vullishope waar dit nie afbreek nie.
Die wolbedryf is bekommerd dat as die omgewingsmaatstawwe gebruik word, wol ’n rooi etiket sal kry, met poliëster wat ’n groen etiket sal kry aangesien mikroplastiek en plastiekafval nie in die maatstawwe gemeet word nie.
“Gebruikers met goeie bedoelinge sal aangemoedig word eerder meer as minder klere verantwoordelik vir fast fashion te koop.”
Die IWTO werk op verskillende vlakke met die Europese Unie om die maatstawwe waarvoor wol gemeet word, reg te stel.
Die IWTO is onder meer bekommerd dat slegs nadelige omgewingsfaktore gemeet word, en glad nie goeie omgewingsfaktore nie, soos volhoubaarheid, hernubaarheid en kledingstukke soos wol wat uiteindelik bioafbreekbaar is en voedingstowwe terugplaas in die grond.
Nog ’n kommerwekkende aspek van die maatstaf wat nadelig is vir wol, is die manier waarmee die gebruiksduur van klere gemeet is, aangesien daar na fisieke eienskappe gekyk word om dit te voorspel. Volgens die IWTO toon gebruikersinligting dat kledingstukke gemaak van dierevesels soos wol, kasjmier, bokhaar en alpakka van die langlewendste in hul kas is. Die huidige maatstaf is om na die taaiheid (toughness) te kyk, maar volgens Ireland lê wol se langlewendheid in die rekbaarheid van die vesel, wat nie gemeet word nie, en daarom kry wol dus ’n lae telling vir taaiheid.
Al 16 die maatstawwe wat gemeet word, dra ook nie gelyke gewig nie, met klimaatsverandering wat ’n baie hoër gewig as die res dra. Die IWTO het by verdere ondersoek besef dat die waarde wat wol vir sy rol in klimaatsverandering kry, is vier keer hoër as wat die IWTO kon vind in sewe portuurbeoordeelde wetenskapartikels.
Die IWTO het onder meer in koalisie met 23 lede uit die natuurlikeveselbedryf en nieregeringsorganisasies ’n veldtog genaamd Make the label count met me. Dalena White, sekretaris-generaal van die IWTO, as woordvoerder begin om seker te maak die speelveld vir alle tekstiele in die Europese Unie is gelyk danksy beter metodologie om die omgewingsmaatstawwe te meet.