As deel daarvan word die publiek se hulp gevra om die ligging van neste van dié grasieuse voël aan te meld. Daardeur sal meer uitgevind kan word oor hul verspreiding, bevolkingsdinamika en ekologie.
Inligting word onder meer ingesamel oor hoeveel lewende of dooie kuikens per nes waargeneem is en of die kuikens suksesvol grootgeword het. Hierdie langbeenvoëls met hul kenmerkende kuifkop en swart “kniebroeke” verskyn boaan die Suid-Afrikaanse landswapen.
Volgens Birdlife SA het hul getalle in veral die afgelope drie dekades reg oor Suider-Afrika skerp gedaal. ’n Verlies aan habitat en die impak van kragdrade en heinings het ’n invloed daarop.