
Mnre. Etienne en Johann Terblanche van die Etienne Terblanche-trust van Aberdeen het vanjaar weggestap met dié gesogte trofee.
Mnr. Andreas Nel van Steytlerville is tweede, gevolg deur Van Hasselt-boerdery van Prins Albert (derde), mnr. E. Brits van Jansenville (vierde) en mnr. F.E. Colborne-boerdery van Willowmore (vyfde).
“Die wenners is ’n bewys van goeie en harde werk en dit is vir ons almal ’n aansporing om ook te probeer om hierdie tipe bokhaar te produseer om sulke pryse te kry,” het mnr. Rothner Bekker, voorsitter van Sybokhaar Suid-Afrika, tydens die geleentheid in Willowmore gesê.
Die toekenning word geborg deur die Japanese maatskappy Daidoh, wat somerkleinbokkiehaar van ’n hoë gehalte gebruik vir die vervaardiging van supergehalte manspakke vir die Japanese mark. Die doel van die kompetisie is om die produksie kleinbokkiehaar van ’n hoë gehalte te bevorder.
“In vandag se moeilike tye is dit belangrik dat ons hierdie tipe kompetisies het. Ons wil die Daidoh-maatskappy bedank dat hy steeds bereid is om die kompetisie te borg,” het Bekker gesê.
Pandemie en formele drag
Volgens mnr. Anthony Kirsten, uitvoerende hoof van die Stucken-groep, ervaar maatskappye soos Daidoh, wat spesialiseer in formele drag, tans ’n moeilike tyd.
“Oor die afgelope twee, drie jaar het mense tuisgebly, hulle was in gemaklike drag en het nie werk toe gegaan nie. Vir die maatskappy om steeds betrokke te wees by die bedryf, sê baie oor hom en hoe hy voel oor die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf.”
“Die prag en gehalte van sybokhaarprodukte word op hoë vlakke erken by verskeie modegeleenthede en ons glo dit is weens die groot moeite en moed van die mense betrokke by sybokhaarproduksie,” het mnr. Tsukasa Nabewari, hoof van Daidoh, in sy toespraak gesê wat deur Kirsten voorgelees is.
Die geleentheid is tydens Willowmore se skou vir Angora-stoet- en kuddediere aangebied.
“Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoeveel boere nog belang stel in hul bedryf. Ons het lanklaas so ’n geleentheid gehad waar ons kan bymekaar kom om bokke te skou en die kompetisie te kan bywoon,” het Bekker gesê.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.