
’n Goeie aanbod vir dienste teen gunstige pryse is met Neogen aangegaan sodat boere toetse vir soveel moontlik genotipes kan laat doen, danksy onderhandelings deur die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF) met instansies wat genotipering op vleisbeeste doen.
Neogen is ’n internasionale diere- en voedselveiligheidsinstelling en sy toetse op diere kan sommige plaaslike rasse in staat stel om ’n goeie verwysingspopulasie daar te stel wat die weg na genomiese beraamde teelwaardes sal baan, het mnr. Mecki Schneider, herkose voorsitter van die LRF, op die jaarvergadering in Bloemfontein gesê. Die ander lede van die dagbestuur is mnre. Johan Styger (ondervoorsitter), Kobus Bester en Wayne Porter.
Goeie vordering word gemaak met die LRF se doelwitte vir onder meer bemarking, promosie, maatskaplike ontwikkeling, rasverbetering en deelneming deur die bedryf. Die LRF het sy eie reëletyd ultraklankskandeerder gekoop om karkaseienskappe, soos oogspiergrootte, rib- en kruisvetdikte en tussenspiervet, te meet. Mense is opgelei om die toestel te gebruik en is al wyd aangewend, onder meer in Zimbabwe. Lede kan by die LRF-kantoor aansoek doen om skanderings te laat doen.
Schneider het gesê die sterfte van dr. Michael Bradfield, hoofbeampte van die LRF, weens kanker was sekerlik die mees ontwrigtende gebeurtenis die afgelope jaar. Hy het ’n groot leemte gelaat en sy insig, leiding, passie, dryfkrag, vasberadenheid en visie van toekomstige mikpunte sal gemis word. Hy het voor sy dood besef wat sy uiteinde is en het die LRF se pad vorentoe voorberei. “Dit gaan meer as ooit vantevore toewyding en konstruktiewe samewerking van elkeen verg,” het Schneider gesê. Die dagbestuur koördineer Bradfield se take.
Die LRF-Veeskool by Aldam se formaat word in heroënskou geneem. Die aanbieding in 2021 was weer ’n hoogtepunt. Dit is die vlagskip-geleentheid vir veeboere en ander mense in landbouverwante bedrywe om meer oor die nuutste neigings van teling en produksie te leer. Altesaam 85 mense het dit bygewoon en meer as tweehonderd mense het dit aanlyn meegemaak, wat konferensiegangers van verskeie Afrikalande ingesluit het.
Die vleisbees-genomikaprojek se tweede fase gaan eersdaags begin. Met goeie samewerking tussen betrokkenes sal dit die stoet- en beesbedryf bevorder.