
Min boere met melkkoeie gesels vandag met ’n lekker hart oor hul melkery, want die wins is weens verskeie faktore klein of bestaan selfs net in die geestesoog. Mnr. Callie Wolhuter (26), boer van Magogong op die Vaalharts-besproeiingskema in die Noord-Kaap, sê egter reguit: Hy maak wins.
Hy is sedert sy pa, Frans, se dood twee jaar gelede ’n direkteur in die melkery op die plaas Calmax met 25% van die aandele agter sy naam. Die res behoort aan mnr. Alfons Visser, voorheen ’n nasionale Boer van die Jaar en bekende boer en entrepreneur van die gebied.
Die Wolhuter-broers se pa, Calie, wat die melkery in 1972 begin het, is nog op ’n beperkte grondslag by sekere aksies betrokke. Hulle melk meestal Holsteins. Net 8% van die kudde is Jerseys. Callie sê hul mikpunt is om eersdaags 2 400 koeie te melk. Frans is in Maart 2016 oorlede, sowat vyf maande nadat Callie ná universiteit ook by die boerdery gaan werk het.
Callie vertel hy is aan die diep kant ingegooi. “Ek het toe net vyf maande se praktiese ervaring gehad, behalwe die vakansies wat ek op die plaas gewerk het. Party vakansies het ek met die stroper of planter gewerk; ander kere in die melkery. Só het ek baie by my pa geleer, wat my baie gehelp het toe ek skielik moes oorneem.”
Alfons het hom ook baie gehelp, asook mnr. JP van den Berg, bestuurder van die boerdery, wat sewe jaar lank saam met Frans gewerk het en van die begin af sy regterhand was. Nog ’n steunpilaar is mnr. Ulrich Nauhaus, hoofbestuurder van die melkery. Hy is goud werd.
“Die heel belangrikste is dat ek my hand in die Here se hand gesit en Hom elke oggend vir raad en insig gevra het. Die Here het my die moed, krag en wil gegee om aan te gaan,” vertel Callie. Alfons boer naby die melkery en is op groot skaal by die produksie, verwerking en uitvoer van pekanneute en grondbone betrokke.
In 2014 het hy aandele in sy maatskappy P-Farm Agente aan die reusagtige Amerikaanse landboumaatskappy Golden Peanut and Tree Nuts (ADM) verkoop en daardeur die besigheid betekenisvol uitgebrei.
Gunstig geleë
Die faktore wat ’n verskil tussen wins en verlies maak, is ’n melkery se ligging en voerkoste.
Hulle verkoop die meeste van die melk aan drie kopers in Botswana, waarvan Parmalat 80% koop en die melk self met vyf melktenkwaens op die plaas kom haal. Alles word na Gaborone geneem, waar hulle dit verpak en versprei. Hulle het onlangs ook ’n kontrak met Bandini Cheese in Gauteng gesluit.
Dié onderneming vervaardig 21 ton kaas per dag in sy fabriek in Soweto. Hierdie melkkopers bied aan Callie-hulle ’n gunstige liggingsvoordeel teenoor byvoorbeeld melkboere in die Oos- en Wes-Kaap, wie se melk dikwels oor groot afstande vervoer moet word. Met duur brandstof is dit ’n tameletjie. Die vervoerkoste is by die melkprys ingesluit; dus betaal Callie-hulle indirek self vir die vervoer.
Die hoë gehalte en groot hoeveelheid melk wat hulle lewer, tel gevolglik in hul guns wanneer hulle prys beding. Dit tel by die groot aankopers ook punte as hulle baie melk by een boer kan laai.
Die boerdery lewer die meeste van die bestanddele vir die koeie se rantsoene se bestanddele self, naamlik al die mielie-, hawer- en lusernkuilvoer en lusernhooi, waardeur hulle seisoenale skommelings in die voerprys vermy.
Hulle koop ook katoensaad by die katoenmeule op Hartswater, waarvan hy en Alfons ook aandeelhouers is. Hulle koop die ander bestanddele, soos geel mielies, melassemeel en katoensaad.
Uitbreiding beoog
Voordat Alfons betrokke geraak het, het die Wolhuters 900 koeie gemelk. Hul toekomsvisie was toe reeds om uit te brei.
Danksy Alfons se aandeelhouding het die melkery vinnig gegroei, onder meer deur dragtige verse te koop. Nou brei hulle verder uit deur hul eie gekeurde versies groot te maak en kunsmatig te insemineer (KI). Hulle het reeds die grootste melkery in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat. Callie sê hul volgende groot projek is koeibehuising; “iets soos ’n koeihotel”.
Daar sal onderdak lêplek vir elke melkkoei wees. Alles sal daagliks skoongemaak word. Die “hotel” sal lugverkoeling, sproeimis en outomatiese borsels hê wat self aanskakel wanneer ’n koei daarteen skuur om toestande vir die koeie te verbeter ter wille van hoër produksie. Hulle beoog om dit in ’n paar fases af te handel.
Die eerste fase word vanjaar aangepak en die volgende fases oor die volgende twee jaar. Die koeie met die hoogste produksie sal eerste “ingeboek” word en al die ander koeie sal mettertyd hul beurt kry.
Twee draaitafels
Die koeie word op twee Duitse GEA-draaitafels gemelk. Die een het staanplek vir 40 koeie op ’n slag en ’n vermoë van 900 koeie per dag en die ander een het plek vir 60 koeie en ’n vermoë van 1 300 koeie per dag.
Die koeie leer gou om op die draaitafel te klim. ’n Rekenaar beheer die draaitafel en laat dit teen ’n konstante spoed draai sodat diere genoeg tyd het om op te klim. ’n Werker kan dit in ’n noodgeval tot stilstand bring. Dan word die uier skoongewas en die melkklos aangesit sodat sy gemelk kan word.
Om seker te maak alles kom nie tot stilstand wanneer Eskom beurtkrag toepas nie, het die melkery ’n kragopwekker met ’n enjin van 220 kW aangeskaf. Dit wek 270 KVA op, wat voldoende is om die hele melkery aan te dryf.
Verminder stres
Hulle melk die koeie drie keer per dag en elke skof duur sowat 5½ uur.
Die drie skofte begin om 05:00, 15:00 en 22:00 om die ergste hitte te vermy sodat die koeie nie onnodig aan hittestres blootgestel word nie. Die werkers is in skofte verdeel sodat elke skof sewe dae dagskof werk, daarna sewe dae nagskof en dan is hulle sewe dae af. Sowat 90 mense werk permanent by die melkery.
Die melkproduksie met 2 000 koeie beloop nou sowat 63 000 liter per dag, maar hulle het die vermoë om ongeveer 65 000 liter te hanteer. Die melk gaan teen liggaamstemperatuur (37 ºC) vanaf die draaitafel na ’n voorafverkoelingseenheid waar dit deur ’n pyp binne- in ’n dikker pyp vloei en met koel boorgatwater tot 14 ºC afgekoel word.
Vandaar gaan dit na melktenks waar die temperatuur tot 3,5 ºC verlaag word. “Hoe vinniger die melk afgekoel word, hoe laer is die bakterietelling. Deur die melk eers deur die voorafverkoelingseenheid te pomp, word die melktenks se vermoë verhoog om die melk af te koel,” sê Callie.
Die gemiddelde produksie is 30,5 liter per koei per dag in die somer en 36 liter in die winter. Hul produksie vergelyk goed met die melkproduksie van kuddes op totale gemengde rantsoene (TGR), wat 30 kg en méér per dag behoort te wees. Die produksie is op sy laagste gedurende die warm maande (Desember tot Maart) omdat hitte ’n groter probleem as koue is.
Daarom is daar afdakke met skadunette in elke kraal, hoog genoeg gespan sodat ’n trekker met ’n laaigraaf kan ingaan om die mis gereeld weg te neem. In die waggebied by die melkportaal word die koeie natgespuit en met waaiers koel gewaai voordat hulle gemelk word. Die melkportaal se kante is oop vir goeie ventilasie.
Tussen melksessies rus die koeie onder afdakke in krale langs die melkery.
Higiëne voorrangsaak
’n Beheerkamer met rekenaars is die hartklop van die hele produksiestelsel. Dit is op ’n vlak bokant die melkportaal geleë van waar die produksiestelsel gade geslaan kan word.
Die produksiespan waak nougeset oor higiëne. Die baie pype waardeur die melk vloei, maak dit moeiliker om goeie higiëne te handhaaf. Dus moet die bestuur besonder goed wees. Die hele stelsel word ná elke melkskof deeglik met chemikalieë skoongemaak. Hierdie taak word deur ’n rekenaarprogram behartig. Die stelsel was ook die melktenks elke keer nadat dit leeggepomp is.
’n Veearts van Darling-dierekliniek in die Wes-Kaap besoek die boerdery tweeweekliks vir dragtigheidsondersoeke en om algemene aanbevelings oor gesondheid en koeikondisie te doen. Die kliniek het ’n paar veeartse wat beurte maak om Vaalharts toe te reis om daar twee dae lank met die koeie te werk.
“Dis die moeite werd om hul dienste te gebruik omdat hulle in melkkoeie spesialiseer.”
Versamel inligting
Die rekenaars samel deurgaans inligting in sodat Callie-hulle elke dag elke koei se produksie kan nagaan. As ’n koei se produksie daal, is sy waarskynlik siek en dan word sy behandel.
“Ons werk op ’n afwyking van 20% vanaf elke koei se gemiddelde produksie.” Die rekenaar meet ook die melk se konduktiwiteit (geleivermoë), wat aantoon wanneer ’n koei melkkoors (mastitis) het. Elke koei het ’n oorplaatjie met ’n transpondeerder met al haar inligting. As sy op die melktafel klim, stuur die transpondeerder ’n sein na die rekenaar om “aan te meld”.
Wanneer die kloustuk aan haar uier gekoppel word en die melkproses begin, maak die rekenaar alarm as die koei haar melk nie los nie (in boeretaal: as sy nie wil sak nie). Dit kan op spanning weens ’n siektetoestand dui. Die hoeveelheid melk wat die koei per sessie lewer, word ook gemeet en die rekenaar waarsku die boerdery wanneer die koei skielik minder melk lewer, wat ook weens siekte kan wees.
“Dan kan ons die koei se koors meet en uier ondersoek om ’n diagnose te maak. As dit ’n akute geval is, kontak ons die veearts; andersins behandel ons haar self.”
Rantsoene fyn uitgewerk
Al die koeie is op volvoerrantsoene en wei glad nie.
Die koeie in melk se rantsoen verskil van dié van droë koeie en verse, omdat hul liggaamsbehoeftes verskil. Talle faktore word by die opstel van elke rantsoen in ag geneem, sê Callie. Dit moet melkproduksie bevorder, maar ook die koeie se kondisie in stand hou met die oog op reproduksie.
Die rantsoen moet egter nie só “warm” wees dat dit die koei se maag omkrap nie; met ander woorde die kragvoerkomponent moenie so hoog wees dat dit die rumen se werking versteur nie. Dit kan suurpens veroorsaak. Die rantsoen bestaan uit 13,3 kg lusernkuilvoer, 9,34 kg mieliekuilvoer, 4,99 kg hawerkuilvoer en 6,2 kg brouersgraan per koei per dag, waarby 14,2 kg suiwelmeel gevoeg word.
Die ander diere se rantsoene bevat minder energie en meer proteïen. Die suiwelmeel word deur ’n plaaslike kontrakteur uit ’n melkkonsentraat van Afgri, melassemeel, katoensaad en mieliemeel saamgestel en gemeng.
Sinvolle seleksie
Die boerdery pas net kunsmatige inseminasie toe. Hy gebruik meestal Kanadese en Amerikaanse semen wat deur Semex ingevoer word.
Die maatskappy se plaaslike verteenwoordiger, mnr. Marno Meyer, help met die beplanning en seleksie saam met oupa Calie sodat hulle ingeligte besluite kan neem. Die boerdery is baie versigtig vir inteling en gebruik ’n rekenaarprogram wat individuele paring beplan om inteling te voorkom en sekere eienskappe by bepaalde koeie te verbeter. Genomika het ’n groot verandering in teling en seleksie gemaak, sê Callie.
Die bulletjies word tot op speenouderdom (200 kg) gevoer en word dan aan die Tristar-voerkraal op Hartswater gelewer waar hulle tot op slaggewig (480 kg) gevoer word. Callie-hulle betaal ’n bedrag wat die staan- en voerkoste dek, en kry dan die inkomste uit die verkope aan abattoirs. Die koste en wins hang af van die voerprys en die heersende slagprys.
“Ons hanteer dit as toegevoegde waarde en die inkomste vorm nie deel van die melkery se syfers nie, maar as ’n voerkraalstelsel op sy eie.”
Vervangingsverse
Die doel van die vervangingsverse is nie slegs om die kudde te vergroot nie, maar ook om ouer diere te vervang sodra hulle minder produktief word en om jonger koeie wat min melk lewer, te vervang. Koeie is deesdae net vir enkele laktasies produktief, wat wêreldwyd kommer wek. Internasionaal hou koeie gemiddeld net sowat 1,9 laktasies vanweë die seleksie vir hoë melkproduksie; dan word hulle uitgeskot.
In hierdie groot kudde selekteer hulle vir langer produksie en hulle melk die koeie reeds gemiddeld vir meer as drie laktasies. “Hoe langer ons ’n koei kan melk, hoe goedkoper word haar produksie. Dis hoekom ons vir langlewendheid selekteer deur bulle te gebruik wat vroulike nageslag lewer wat langer as die gemiddelde gemelk kan word.”
Die versies word van die ma’s weggeneem sodra hulle bies ingekry het. Hulle word na ’n skuur met 360 individuele kalwerhokkies geskuif. Daar kry hulle ’n melkvervangende produk en leer ook om vaste kos te vreet. Op tien weke word hulle gespeen.
Daarna kry hulle net voerkorrels wat met growwe lusernhooi gemeng is. Sodra hulle oud genoeg is vir kunsmatige inseminasie, word ’n visuele seleksie gedoen en saam met elke versie se genomiese data gebruik om te bepaal watter verse behou word. Hulle word geïnsemineer wanneer hulle 14-16 maande oud is en hulle kalf wanneer hulle 24 maande oud is.
LBW VRA …
Mnr. Callie Wolhuter
WAT WAS JOU BESTE BESLUIT NOG?
Om net ná universiteit op Vaalharts te gaan boer en om die boerdery uit te brei, veral met pekanneutaanplantings.
WIE WAS JOU MENTORS?
Eerstens my oorlede pa, Frans, asook my oupa, Calie, en my vennote en medeboere, oom Alfons Visser, Jaco Greeff en Ulrich Nauhaus.
WAT IS DIE BESTE RAAD WAT JY GEKRY HET?
Moet nooit toelaat dat emosie jou besigheidsbesluite beïnvloed nie. Dit is een van die belangrikste sakebeginsels wat oom Alfons Visser my geleer het.
WAT IS DIE GROOTSTE BOERDERYFOUT WAT JY GEMAAK HET?
Ek moes ’n jaar vroeër begin boer het, toe ek nog op universiteit was, en sodoende méér praktiese ondervinding opgebou het.
WAT IS JOU GROOTSTE PROBLEME?
Om elke dag die regte besigheidsbesluite te neem.
WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR?
Rekenaarstelsels wat melkkoeie elke dag monitor en waardevolle inligting oor bestuursbesluite gee.
Begin met nege boepens versies Van ’n nederige begin met nege “boepens versies” tot een van die groot melkerye in die land – dis die pad wat oupa Calie Wolhuter (87) geloop het.
Hy kan met reg die vader van die Calmax-melkery genoem word. Calie is al sedert 1951 op Vaalharts; die afgelope 61 jaar op sy eie grond. Omstreeks 1971 het hy ’n klein melkery met nege “boepens versies” begin. Hy is dus al 47 jaar in die melkbedryf.
Toe sy seun, Frans, die melkbeeste in 2001 oorgeneem het, was daar 95 koeie in melk. Calie bestempel die ontwikkeling in bestuur en voeding sedert daardie pioniersjare as astronomies: “Mense het nou wonderlike inligting en tegnologie tot hul beskikking.”
Hy het nie eens ’n voermenger gehad nie, maar het die voer met ’n hamermeul gemaal, die rantsoen lukraak uit lusern-, grondboon- en hawerhooi saamgestel en met die hand gevoer. Later het hy voerkorrels met ’n gebalanseerde samestelling begin voer, wat die melkproduksie verhoog het.
“Hoewel ons nie sulke goeie tegnologie soos vandag gehad het nie, het ons ons toe reeds op goeie teelmateriaal toegespits. Ons het aan skoue deelgeneem en alles geniet. Dit was goeie ou dae.”
Calie het die koeie twee keer per dag met die hand gemelk en die melk in melkkanne verkoop. Toe Frans oorneem, het hy melkmasjiene gekoop en die rantsoene wetenskaplik saamgestel. Reivilo-suiwelkoöperasie het die kanne melk elke dag kom oplaai. Later het die koöperasie melktenks beskikbaar gestel om die melk se gehalte te verbeter.