Die nasionale dieregesondheidsforum sien die private sektor as die oplossing vir die vervaardiging van noodsaaklike entstowwe weens ernstige tekorte wat by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) bestaan.
OBP het onlangs aangedui dat die vervaardiging van onder meer entstof vir bloutong eers in Desember sal begin, vir Afrika-perdesiekte teen middel November, vir slenkdalkoors teen einde November en vir drie-dae-stywesiekte teen Maart 2023. Die redes vir die tekorte is glo ’n probleem met ’n vriesdroogmasjien wat deur ’n internasionale kenner herstel moes word, beurtkrag en ’n staking deur sommige personeellede.
Mnr. Gerhard Schutte, voorsitter van die forum, sê solank as wat OBP vir die vervaardiging van entstowwe verantwoordelik gaan wees, gaan daar tekorte en probleme wees. “Ons het al talle gesprekke daaroor gehad, maar OBP kry dit eenvoudig nie reg om op ’n deurlopende basis genoeg te produseeer nie.”