Die groot afstand tussen Paraguay en Suid-Afrika is nie te ver vir Rubens Forbes Alves de Lima om hom voluit vir die teel van topgehalte Bonsmara-beeste te beywer en sy data met die ras se telersgenootskap aan die suidpunt van Afrika uit te ruil nie.
Bella Alianza Bonsmara is deel van ’n massiewe beesboerdery by Capitán Bado in die noorde van Paraguay. Daar boer die 76-jarige Rubens met 16 000 koeie wat deur kunsmatige inseminasie bevrug en deur 250 SP-bulle gedek word.
Sy hele beesboerdery bestaan uit 42 000 diere waarvan 80% jaarliks in sy voerkrale afgerond en geslag word. Ruim 70% van die slagbeeste het minstens 50% Bonsmara-gene. Dit is waarskynlik die grootste kommersiële Bonsmara-projek ter wêreld.