VRAAG: Ek soek meer inligting oor Afrika-varkpes en hoe om dit te voorkom.
Afrika-varkpes kom voor onder vlakvarke, bosvarke, wilde en ander varke. Uitbrekings is vanjaar aangemeld in onder meer die Oos- en Wes-Kaap, Vrystaat, Gauteng, Noordwes en Limpopo. Mak en wilde varke en hul produkte mag nie uit beheerde gebiede verwyder word nie omdat dit gevaarlik vir ander varke is.
Afrika-varkpes is byna altyd dodelik en daar is geen geneesmiddel vir die siekte nie. Mense word egter nie deur die siekte geraak nie. Varke kan Afrika-varkpes opdoen as hulle in aanraking kom met ander siek varke of rondbeweeg in dele waar siek varke was. Varke kan ook die siekte opdoen van wilde varke en bosluise wat van die wilde varke afval in die Afrika-varkpes-beheerde gebiede. Varke kan ook Afrika-varkpes opdoen as hulle vullis inneem wat vleis van siek varke bevat, of wat in kontak was met vleis van siek varke. Volgens wet moet kombuisafval vir een uur gekook word voordat dit vir varkkos gebruik word om hulle teen siektes te beskerm.