
Die aankondiging oor ’n moontlike hoër tarief op goedkoop ingevoerde hoender word binnekort verwag, het die Parlement se portefeuljekomitee oor landbou, bosbou en visserye gehoor.
Die Vereniging van Vleisinvoerders-en-uitvoerders (AMIE) wat teen ’n verhoging in dié tariewe gekant is, en die SA Pluimveevereniging (SAPV) wat om beskerming teen die invoer van goedkoop hoender vra, het voor dié komitee verskyn.
Mnr. Sol Motsepe, senior uitvoerende beampte van die SAPV, het gesê Suid-Afrika het ’n groter teiken vir die ontwikkelde wêreld se ongewenste oorskotte geword.
Hy het gesê agterkwarte wat Europese en Brasiliaanse verbruikers nie wil hê nie, kon verlede jaar vir so min as R6/kg tot R16/kg ingevoer word. Dit is goedkoper as wat dieselfde produk in daardie lande kos, wat op storting neerkom.
Wanbalans in vraag en aanbod
Die toename in die invoer van hoendervleis het ’n wanbalans meegebring in die vraag en aanbod daarna, met die gevolg dat plaaslike boere nie meer die verhoogde pryse vir voer kan verhaal nie. Volgens Motsepe sal Suid-Afrika nie altyd op goedkoop ingevoerde hoendervleis kan steun om die nasie te voed nie.
“Hoender wat vandag teen baie lae pryse ingevoer word, mag net sowel môre nie beskikbaar nie of baie duur wees as uitvoerders lande vind wat gewillig is om meer daarvoor te betaal.”
Mnr. Georg Southey, uitvoerende lid van AMIE, het gesê dat die netto uitwerking van ’n tariefverhoging ’n styging in voedselpryse, beperkte produkkeuse en ’n vermindering van voedselsekerheid in Suid-Afrika sal meebring. Die enigstes wat voordeel sal trek uit só ’n verhoging is die paar hoenderprodusente.
Invoer van hoendervleis
’n Verhoging sal ook ’n beperkte uitwerking op die totale invoer van produkte hê en die invoer van produkte van lande buite die Europese Unie (EU) sal gestaak word. Die gevolg is dat hoendervleis op kort termyn teen ’n ietwat hoër prys uit die EU ingevoer sal word. Altesaam 55% van alle hoendervleis wat tans ingevoer word, kom uit die EU en slegs 29% van Brasilië.
Southey het gesê die groot boere stoot alle mededinging, plaaslik én internasionaal, uit. Nuwe toetreders tot die bedryf vind dit moeilik om in die bedryf te begin.
Hierdie organisasies beperk toegang tot genetiese materiaal, voer en verspreidingskanale. “Ons glo dat om die mededingendheid van invoer te beperk, die keuse van die verbruiker beperk word. Daar is ’n balans tussen plaaslike lewering en invoer, wat goed is vir mededinging,” het Southey gesê.