Van plaaskind wat gedurig tussen die beeste en mielies was, tot onderwyser, later kleinboer op net 80 ha en uiteindelik ’n suksesvolle boer op 400 ha eie én huurgrond, is ’n pad wat net met volharding en harde werk gestap kan word.
Wat kommersiële boerdery betref, is die 400 ha waarop die 36-jarige mnr. Jess Walker van Vanderbijlpark sy bestaan maak, piepklein in vergelyking met ander boere s’n – hetsy saai- of beesboerdery of ’n kombinasie van die twee.
Die suksesse wat hy behaal, het daartoe gelei dat hy as naaswenner in TLU SA se jongboerkompetisie vir 2021 bekroon is. Walker het in ’n familieboerdery by Ventersdorp grootgeword waar sy oupa, Jess, pa, Rudi, en oom Jerry Walker met graan en beeste geboer het.