In die besprekingsdokument oor ekonomiese groei wat die nasionale tesourie einde verlede jaar uitgereik het, word kontrakboerdery in die afdeling oor die landbou uitgesonder. In die dokument word die voordele erken wat heelparty opkomende boere uit dié model gekry het. Tog word gewaarsku dat “veeleisende en beperkende kontrakvoorwaardes wat groot landboubesighede en kettingwinkels aan kleinboere stel, hulle dikwels keer om die sprong van opkomend na kommersieel te maak”.
Die suksesverhaal van me. Grace en mnr. Humphrey Kgomongwe wys dat die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf ’n weg rondom hierdie spesifieke slaggat gevind het. Só stel dit swart boere in staat om grondeie- naars te word en hul besighede te diversifiseer op maniere wat van ’n kommersiële benadering spreek. Op die ouderdom waarop die meeste mense begin afskaal met die oog op aftrede, het die egpaar besluit om hul lank gekoesterde boerderydroom na te jaag.
Grace, ’n professionele verpleegsuster, is in 2003 met ’n jaar lange kontrak Engeland toe. Terwyl sy die ponde verdien het wat hul plaasprojek ’n behoorlike hupstoot kon gee, het Humphrey tussendeur sy werk as ’n staatsamptenaar ’n soektog na geskikte grond begin. Drie jaar later het die egpaar naby Zeerust in Noordwes gekry waarna hulle gesoek het.