Rekords is goed en wel, maar dit is rekordhouding wat gelei het tot ’n byna 100%- verbetering in die stalgemiddelde van die meestersuiwelboer mnr. Johannes Loubser.
Om 2 500 geneties puik Holstein- en Ayrshire-koeie drie maal per dag te melk en ’n stalgemiddelde van 40 liter per koei te handhaaf, sal enige melkboer beïndruk.
’n Daaglikse produksiesyfer van 100 000 liter melk verg vernuftige bestuur. En om alles te kroon, het 60 koeie reeds sedert 2011 die magiese 100 000 liter-leeftyd-produksie oortref. Dan besef ’n mens waarom Loubser al vier trofeë as Suid-Afrika se Meestersuiwelboer van die Jaar gewen het.