Daar is vanjaar dus ook die kans om na insette van mnre. Roelf Meyer, politikus, Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie, Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, en dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, te luister oor die polities-ekonomiese kruispad waarvoor die landbou tans staan.
Dr. Michael Bradfield, direkteur van Breedplan Suider-Afrika, sê Zimbabwe is duidelik nie ’n voorbeeld van hoe om grondhervorming suksesvol te laat gebeur nie. Suid-Afrika kan ook nie Botswana se voorbeeld volg nie omdat daar nooit apartheidswetgewing was wat grondbesitpatrone beïnvloed het nie.
Hy meen Namibië bied dalk die beste voorbeeld waar landbouleiers met die staat saamwerk aan ’n werkbare oplossing. Die boereleiers wys hulle wil saamwerk, terwyl die staat vertroue het dat wit boere opkomende boere wil help om volwaardig kommersieel te boer.