Danksy ’n bulprojek, soortgelyk aan ’n inisiatief wat ’n eeu gelede tot noemenswaardige kuddeverbetering gelei het, word ’n dertigtal bulle van uitstekende teelmateriaal gebruik om die kuddes van nagenoeg 25 nuwe Wes-Kaapse boere te verbeter.
Prof. Tertius (Ters) Brand, spesialiswetenskaplike by die direktoraat navorsing en tegnologiese ontwikkelingsdienste van die Wes-Kaapse departement van landbou op Elsenburg, sê met dié projek word wegbeweeg van die patroon dat nuwe beesboere hul kalwers van melkerye koop en dié teelmateriaal vir vleisproduksie gebruik.
Een van die boere, me. Mina Baron van die plaas Caledonia naby Hopefield, het reeds ’n rasegte Bonsmarakudde wat deur die projek tot nuwe hoogtes gevoer is. “Bulle is duur, en die bulprojek is die antwoord om ons kudde vinniger te verbeter.”