
Veeboere se internasionale mededingendheid moet verbeter word, want skaalekonomie is een van die grootste kwessies wat hulle kwesbaar maak, het mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), op die jaarvergadering in Windhoek gesê.
Dit kan geskied deur beleidshervorming van die lewendehawe-waardeketting ten einde produksiebeperkings uit die weg te ruim, uitvoergehalte te handhaaf, beleggings in produk-diversifikasie en plaaslike waardetoevoeging te bevorder en veeboere se veerkragtigheid teen klimaatsverandering te versterk.
Namibië se dieregesondheidstatus bly van deurslaggewende belang vir die veebedryf en verskeie probleme word beleef. Namibië is ’n uitvoerland van lewende hawe en vleis, en is grootliks van uitvoermarkte (internasionaal en Suider-Afrika) afhanklik. Indien bek-en klouseer suid van die veterinêre kordonheining geïdentifiseer word, sal alle uitvoermarkte oornag gesluit word en die totale lewendehawebedryf sal tot stilstand kom, met katastrofiese ekonomiese gevolge.
Dit is ook belangrik om die dieregesondheidstatus noord van die heining tot voordeel van die hele vleisbedryf te verbeter. “Die skynbaar onbeheerbare uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika verhoog die risiko verder. Optrede moet verskerp word om die grens te beskerm,” het hy bygevoeg.
’n Uitvoerabattoir is noodsaaklik vir die Namibiese beesbedryf weens Meatco se astronomiese verliese die afgelope vyf jaar. Dit is onvolhoubaar en veranderings is dringend noodsaaklik. ’n Volhoubare Meatco is ’n uiters belangrike pilaar vir die Namibiese beesbedryf om stabiliteit en groei te verseker.
Die kleinveebemarkingskema is reeds drie jaar op ys en boere is besig om te investeer en kuddes te bou. “Die skaapboer is egter afhanklik van slegs twee markte, naamlik lewende uitvoer na Suid-Afrika en die plaaslike mark. Die LPO en die vleisverwerker Hartlief het ’n ondersoek gedoen oor die lewensvatbaarheid van die uitvoer van skaapvleis na veral been-in-markte, soos Europa.”