
Stoffel, die 14 maande oue kruising van ’n Border Collie en ’n Kelpie van mnr. Eduard Prinsloo van die plaas Waterval, Smithfield, het pas begin om skaapwerk te doen en moet nog die fyner kunsies bemeester.
Prinsloo vertel dat hewige reënneerslae op 13 November vanjaar die omgewing se damme laat oorloop en die spruit op sy geboorteplaas, Heuningkrans, en die naburige Donkerhoek sterk laat afkom het.
“Ek en Stoffel het die watervloei by die laagwaterbrug op Donkerhoek gaan bekyk, aangesien die meeste afloop deur dié plaas na die Rietrivier loop. Ons het op ’n swerm tarentale in ’n bos afgekom. Met die wegvliegslag het een in die water beland.”
Tot sy verbasing het Stoffel se beskermingsinstink ingetree en hy het die tarentaal agterna gesit. “Ek het eers gedink die donker kol in die water by Stoffel was ’n stomp of iets.”
Prinsloo vertel dat die hond van kleins af in die krale rondbeweeg en by die skape waggehou het.
Hy het ’n video-opname van die reddingspoging begin maak wat toon dat Stoffel die drywende voël uit die sterk vloeiende stroom na die kant gedwing het. “Die hond het die tarentaal versigtig aan die stertvere vasgebyt en na die kant geswem totdat dit droë grond bereik het en kon wegkom. Stoffel het nie eens die tarentaal gejaag nie, dit is asof hy net die voël wou help.”
Prinsloo is spyt dat hy die opname voor die slottoneel beëindig het. Maar die video het baie bespreking om die braaivure in die distrik ontlok.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.