
Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy maandelikse verslag oor siektes wat in Mei by hom aangemeld is, wanneer boere sulke probleme ondervind, moet hulle onverwyld ’n veearts raadpleeg, anders kan hulle groot finansiële skade weens vrektes ly.
Hoewel daar geen entstof vir kriptosporidiose is nie, kan dit met die regte maatreëls bestuur word. Vee met ’n goedontwikkelde immuunstelsel sal die siekte gewoonlik maklik te bowe kom. Boere moet ook seker maak hul vee ly geen tekort aan veral vitamien A en seleen nie. ’n Goeie biosekerheidsprogram, skoon water en streng higiëne by werkers is ook ononderhandelbaar.
Bloubosluise kan siektes soos rooiwater, anaplasmose en knopvelsiekte oordra. Boere moet hulle van die weerstandstatus op hul plase vergewis voordat hulle bosluismiddels koop. ’n Veearts kan help om volgesuipte bosluise te versamel en hulle vir weerstand te toets.
Insekoorgedraagde siektes het ook die laaste tyd hoogty gevier, waarvoor entstowwe beskikbaar is. Die enigste rede waaraan hy kan dink hoekom hierdie siektes op so ’n groot skaal voorkom, is dat boere nie hul vee inent nie of dat die koueketting met die entstowwe verbreek word, sê Malan.
Die tabel met siektes wat in Mei by Ruvasa aangemeld is, is hier beskikbaar.