
Die konsultasie, opleiding- en afrigtingsorganisasie RCS (Resource Consulting Services) bied op 27 September ‘n werkswinkel in Stellenbosch aan wat handel oor die stresvrye-hantering van vee.
Die kursus is gebaseer op werk van die Amerikaners, mnr. Bud Williams en prof. Temple Grandin. Grandin is ‘n professor in dierewetenskap aan die Universiteit van Colarado. Sy het verskeie boeke geskryf en doen konsultasiewerk oor dieregedrag in die veebedryf.
Williams, wat in November 2012 oorlede is, het wyd bekendheid gewerf as iemand wat goed met diere kan werk. Hy het erken dat daar niks misterieus aan sy vermoëns is nie: “Om ‘n goeie veehanteerder te wees, verg nie towerkrag nie. Maar dit verg inspanning, oefening en ervaring om goed daarmee te wees.”
Kan boere en veehanteerders baie help
Die kursus word aangebied deur David McLean, algemene bestuurder van RCS in Australië, wat opleiding by Williams ontvang het. ’n Organiese boer, mnr. Angus McIntosh wat by Spier boer en by die dag betrokke is, sê dat die werkswinkel boere of veehanteerders sal help om die psige van hulle diere beter te verstaan en sodoende veehantering te verbeter.
Bruce Brown van RCS in Suid-Afrika, voeg by dat die beginsels wat by die werkswinkel aangebied word, veehanteerders help om meer doeltreffend te werk: “Dit leer veehanteerders om diere beter te lees en op ‘n manier te reageer wat tot positiewe gedrag in diere lei. Die resultaat is dat minder hanteerders nodig is per vee-eenheid. In Australië byvoorbeeld het McLean gehelp om saam met ‘n plaasbestuurder tot 2000 koeie en kalwers alleen te hanteer.”
RCS bied ook ‘n kursus aan oor volhoubare produksie van 8 tot 9 Oktober in Harrismith. Brown wys daarop dat meer as 50% van plase in Suid-Afrika ‘n omset van minder as 50% het en dat die hoeveelheid boere in Suid-Afrika van 120 000 in 1980 verminder het tot sowat 37 000 aan die einde 2012. Daar word voorspel dat hierdie getal gaan halveer oor die volgende 15 jaar.
Vir meer informasie kontak Bruce Brown by (058) 622 1499, e-pos info@rcssa.co.za of gaan na die webtuiste www.rcssa.co.za of https://www.rcs.au.com.