Volgens die Cape Wools-aanwyser het nie-RWS-wol op die derde veiling van die 2022-’23-seisoen met 3,6% tot R160,22/kg teruggesak, terwyl die prys van RWS-wol met 6,3% tot R172,22/kg gedaal het. Altesaam 7 471 bale is aangebied, waarvan 84,2% verkoop is. Dit volg nadat die mark op die vorige veiling gunstig gereageer het toe China die verbod op die invoer van Suid-Afrikaanse vetwol opgehef het. Die verbod is in April aangekondig weens voortslepende uitbrekings van bek-en-klouseer, met nagenoeg 70% tot 80% van Suid-Afrikaanse wol wat daardeur geraak is.
Volgens mnr. Isak Staats, hoofbestuurder van wol en bokhaar by BKB, moet ongeveer 400 vragskiphouers of ongeveer 64 000 bale wol wat reeds verkoop is en vir China bestem is, nog weggewerk moet word. Die stelsel is redelik verstop.
“Die goeie nuus is dat die kopers die wol steeds wil hê. Ons moet dit net op ’n skip kry.”