Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van Namibië se Lewendehaweprodusente-organisasie, sê hoekom hy net osse grootmaak – en laat die aap uit mou oor dié land se veelbesproke uitvoerplan.
Veeboerdery is die grootste bedryf in Namibië, maar nie sonder risiko’s nie. Soms is dit hanteerbaar, maar plek-plek is die stryd teen roofdiere só erg dat party boere nie eens 35% van hul kalwers grootkry nie.
Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van Namibië se Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en ondervoorsitter van die Namibiese Landbou-unie, het ’n werkbare plan gemaak op sy plaas, Phantom, by Otjiwarongo waar hy met vleisbeeste vir osproduksie en wild vir trofeejag boer.