Danksy klem op teelmateriaal het mnr. Johnny Hanekom die afgelope lang droogte nie net oorleef nie, maar selfs met meer skape as voor die droogte geëindig. Hanekom het die plaas Sandrucken in die Swartrante 50 km suid van Maltahöhe in 2001 gekoop.
Die Swartrante vorm deel van die oorgang vanaf die plato na die Namib-woestyn. Die somer word deur warm dae en koel nagte gekenmerk. In die winter word dit baie koud.
Die gebied is volgens hom die room van Namibië se kleinveewêreld. Sowat 16 grassoorte kom voor, feitlik almal smaaklike spesies, soos lusernbos, wolbos, kortbeenboesmangras en blinkaarboesmangras. Daar is ook voedsame bosse, waaronder ghabbabos en noeniebos.