Die Melkprodusente-organisasie (MPO) hoop die boerprys van melk sal vanjaar sy opwaartse neiging, wat in November 2021 begin het, voortsit. Die gemiddelde boerprys sal na verwagting vroeg vanjaar bó R7/liter wees, sê mnr. Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van die MPO.
“Indien die boerprys sowat R7,20/liter is en die prys van voerkonsentraat (70% geelmielies en 30% soja) met 7% daal, sal die melk-tot-voerprysverhouding 1,2:1 wees. Dié lae vlak sal weinig onverwerkte melkvloei stimuleer, maar melkboere sal ten minste meer van hul uitgawes kan dek.”
Daar is egter baie veranderlikes wat produksie in die primêre bedryf kan beïnvloed, soos die klimaat en die rand-dollar-wisselkoers. Produksie van onverwerkte melk het in 2021 met 0,7% ingekrimp, en in 2022 na raming met dieselfde persentasie.