Voeding is 70-80% van die produksiekoste in ’n melkboerdery, en as dit nie reg is nie, ly reproduksie en melkproduksie regstreeks daaronder.
Só sê mnr. Pieter Steenkamp, een van drie direkteure van die Tweekop-boerdery by Heidelberg in die Wes-Kaap, wat aangewys is as die Landbounavorsingsraad se Nasionale Kudde met die Beste Interkalfperiode vir 2020.
Steenkamp behartig die melkvertakking met 260-300 lakterende Jersey-koeie. “Die meeste melkboere kyk na voer- en ander koste, vergelyk dit met hul maandelikse melktjek, en bepaal só of hulle wins maak. Ons het dit ook eers só gedoen.