Mnr. René Stubbs, voormalige voorsitter van Dairy Day se raad, sê verskillende filiale van Dairy Day is in voorlopige of finale likwidasie geplaas. Die verwerker skuld boere wat melk aan hom gelewer het miljoene rande. Stubbs sê in die likwidasieproses sal die bankskuld eerste betaal word, waarna boere betaal sal word na gelang van hoeveel geld daar oor is.
Alle betrokke boere, wat ook aandeelhouers was, het reeds ander melkkopers gevind en almal se plaasbedrywighede gaan voort soos voorheen, sê hy.
Landbouweekblad het verlede jaar berig dat 31 KwaZulu-Natalse melkboere in 2016 honderde miljoene rande in die verwerkingsaanleg belê het. Hulle het twee bestaande melkerye gekoop en in die nuutste tegnologie belê om vir hulself ’n toekoms te verseker. Die verskillende boerderye het onafhanklik gebly.