Vanjaar se Platinum-elitekoei van die Angusras, Foleshill Femme (PB 07053), behoort aan mnr. David Louwrens en sy pa, Piet. David hanteer die akkerbouproduksie, terwyl Piet die Angusstoetery Foleshill van Kokstad as deel van die veevertakking vir David bestuur.
Foleshill Femme se vaar was die bul SAV 8180 Traveler 01004 en moer N Bar Emulation Ext. Sy is dragtig met haar negende kalf en het al ses verse en twee bulkalwers opgelewer, waarvan min in die kudde teruggehou is.
Piet sê Foleshill Femme is net een van twee van die 18 koeinageslag van Traveler wat as aanteelverse teruggehou is. Twee van sy seuns is in die kudde gebruik, waarvan geen vroulike aanteel in die kudde is nie. “Dié twee bulle het bloot nie die bou geteel wat vir ons kommersiële toestande benodig word nie.”