Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het die afgelope jaar sy personeel met 60% verminder in ’n groot herstruktureringsproses. Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof, het die tuig neergelê.
Teen druktyd was die organisasie besig om ’n nuwe uitvoerende hoof aan te stel. Volgens mnr. Fanie Ferreira, waarnemende uitvoerende hoof, was die veranderinge “noodsaaklik om die organisasie in staat te stel om ’n lewensvatbare langtermynprestasie te lewer, wat steun verleen aan ons vermoë om volhoubare melkboerdery te ondersteun en uit te bou”.
Die jaar is gekenmerk deur laer produksie as in 2020 weens die ongunstige verhouding tussen die plaashekprys en voerpryse. Teen dié agtergrond het die invoer van Poolse langlewemelk gemoedere opgejaag.