’n Nuwe neiging is troppe vee wat saam met eienaars na informele nedersettings langs dorpe trek. Die beste voorbeeld is Bela-Bela in Limpopo, waar troppe beeste, bokke, skape en donkies aangekom het.
Blykbaar het die stroompie vars water wat verby die dorp vloei, ’n invloed en is weiding natuurlik gratis. In die dorp vermeng die vars water met riool wat oor ’n vlakte vloei, waar welige plantegroei die diere lok. Maar dit is langs strate waar dit probleemdiere word wat ’n gevaar vir motoriste inhou.
Hierdie probleem is volgens vee-eienaars te wyte aan die feit dat daar ’n tarief vir weiding en boorgatwater op stamgrond aan hoofmanne betaalbaar is. Met die langdurige droogte het water in gronddamme opgedroog en is die aarde oorbewei en vertrap.