
Dit gaan met ’n noukeurige stelsel gepaard om alle vee te identifiseer, sê dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) in sy Augustusverslag oor siektes wat deur veeartse in Suid-Afrika aangemeld is.
Dit is op die afgelope kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Alfaweek op Parys beklemtoon. Handelsvennote moet gerus wees dat die republiek ’n stelsel het wat diere in ’n sentrale stelsel identifiseer en dat beweging van vee nagespeur kan word. ’n Proses is reeds aan die gang om dit moontlik te maak.
“Alle boere, die staat en private veeartse moet saamwerk om te verseker dat siektes, soos bek-en-klouseer en ander beheerde en aanmeldbare siektes, in bedwang gebring of uitgeroei word,” sê Malan.
Een van die gevaarlikste siektes wat byna onbeheers in Suider-Afrika woed, is beesbrucellose. Daarom moet boere deeglike biosekerheidsmaatreëls toepas om die verspreiding van die siekte te keer. Die kaart hieronder toon hoe wyd dit in Augustus verlede jaar voorgekom het.
Prof. Gareth Bath, afgetrede
hoogleraar aan die Universiteit van Pretoria, sê in die verslag dieresorgdag
wat op 6 Oktober gevier word, beklemtoon die noodsaaklikheid dat boere goed vir
hul vee moet sorg.
“Of dit nou plaasdiere of ander diere is, almal wat met diere werk, moet hulself afvra wat hulle doen om diere se welsyn te handhaaf of te verbeter. Kan hulle méér doen, is hulle aktief genoeg om ander mense aan te moedig om die voorbeeld te volg? Waar lê die grootste probleem en hoe dit aangepak word,” vra Bath, wat steeds aktief in die veeartsenywêreld betrokke is. Hy is tans voorsitter van die veesorg-koördineringskomitee.
Dieresorg, produktiwiteit en winsgewendheid het ’n noue verband. As ’n boer goed vir sy diere sorg, is dit nie ten koste van goeie plaasbestuur nie. Dit verbeter produksie en winsgewendheid.
Die tabel wat siektes en toestande wat gedurende Augustus by RuVASA aangemeld is aandui, is hier beskikbaar.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.