Dit word beskou as een van die wêreld se moeilikste en uitmergelendste uithouritte waar perd en ruiter tot die uiterste beproef word. Saam trotseer hulle meer as 200 km in die koue. Vanjaar moes hulle boonop in modder en op klipperige terrein meeding.
Bykans 300 geharde perde durf jaarliks die Fauresmith-uithourit aan, maar net minder as die helfte haal die eindstreep. Vanjaar was geen uitsondering nie. Van die 286 perde en ruiters wat op 5 Julie weggespring het, kon slegs 126 dié driedagrit voltooi.
Een van die ruiters wat papnat en vol modder die eindstreep gehaal het, was die 37-jarige mnr. Michael Vaaltuin, ’n plaaswerker op mnr. Meyer le Roux se plaas Kommandantsdrift naby Uniondale.