
Volgens die Namibiese Landbou-unie is die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in 2010 opdrag gegee om ’n oplossing te vind vir die voortdurende epidemie van hondsdolheid wat onder die koedoebevolking in Namibië voorkom. Hierdie epidemie is uniek aan Namibië en is die oorsaak van ernstige, ekonomiese verliese vir die landbou- en toerismesektore wat hierdie wild vir trofeejag, biltong en toerisme gebruik.
’n Werksessie word later vanjaar gehou om aan die LPO en alle ander belanghebbendes ’n breedvoerige oorsig van die resultate en die pad vorentoe te gee.
Die koedoe-hondsdolheidsprojek het in 2016 begin onder leiding van dr. Rainer Hassel, ’n raadgewer oor dieregesondheid en kundige oor hondsdolheid by koedoes. Die resultate van die eerste twee fases van die projek het gewys ’n orale entstof kan werk. Die derde fase het 2020 begin, steeds met Hassel as spanleier, tans in sy kapasiteit as lektor by die Universiteit van Namibië se veeartsenykundige skool.
Een van die doelstellings van fase drie is om verskillende dosisse en metodes van orale immunisering te toets en te kyk of daar ’n meetbare immuunrespons is. Die voorlopige resultate is bemoedigend. Koedoes het hoë dosisse ontvang nadat die entstof in die vorm van aas ingeneem is, asook deur regstreekse orale toediening. Meetbare teenliggaampies is vir die eerste keer ooit in ’n herkouer opgespoor ná ’n orale inenting. Voorheen het ’n paar koedoes wat besmet en ingeënt is, oorleef maar dit is duidelik hoër dosisse orale entstof was nodig om ’n vinniger immuunrespons te bewerkstellig.
Die toets van die aas met entstof in veldtoestande gaan later vanjaar hervat word wanneer dit droër is en die koedoes se kos in die veld skaars raak.