
’n Beefmasterbeeskarkas wat deur Weston Landboukollege vir die 2019 Landbouweekblad-karkaskompetisie op die Royalskou ingeskryf is, is teen R200/kg opgeveil aan die Oysterbox-hotel in Durban. Die karkas, wat 271,1 kg geweeg het, het dus vir Weston Landboukollege R54 220 in die sak gebring.
Volgens mnr. Pierre Janse van Rensburg, ’n landbou-onderwyser aan Weston, gaan hulle vir mnr. Clark Rattray van Pleasant View Beefmasters met ’n glimlag betaal vir die vers wat hy aan hulle gegee het. “Ons het drie jaar gelede ’n program saam met die KwaZulu-Natalse Beefmastergenootskap begin waar ons van vyf telers speenkalwers gekry het om vet te maak. Hierdie speenkalwers raak die verantwoordelikheid van die graad 9-leerlinge, wat hulle moet voer, sorg vir water en hul gesondheid moet dophou. Wanneer ons hierdie speenkalwers verkoop, betaal ons die teler, trek die voerkoste af, en die wins wat ons maak wend ons binne ons boerdery aan. Hierdie finansiële inspuiting sal gebruik word om die speenkalfprogram en ons Beefmasterstoetery, wat deel uitmaak van die Veeplaas-skolestoetprogram, uit te bou,” het hy verduidelik.
Mnr. Terry Strachan, die uitvoerende hoof van die Royal-landbougenootskap, was ingenome met die oplewing wat die karkaskompetisie beleef het. “Ons het die afgelope jaar baie moeite gedoen om die volle potensiaal van die kompetisie te ontsluit. Ek reken ons het ’n ag-uit-tien-prestasie behaal met die kompetisie hierdie jaar, in ag genome dat die R200/kg vir die beeskarkas ’n nasionale rekord vir ’n beeskarkas is,” het hy gesê.
Wenkarkasse
Die Oysterbox het oudergewoonte die res van die kopers stof in die oë geskop en die hoogste bod gewen vir al drie die wenkarkasse van die kompetisie. Die bod vir die wenskaapkarkas, wat deur mnr. Gert Lotter van Aberdeen geteel is, is op R1 500/kg aan die Oysterbox toegestaan, wat per telefoon op die veiling gebie het. Die karkas, ’n Wit Dorper-Ile de France-kruising, het ’n punt van 97,5 behaal. In 2018 het die Wit Dorper-karkas wat Lotter ingeskryf het, ’n punt van 98,18 behaal. Hy het by verlede jaar se Landbouweekblad-karkaskompetisie slegs R180/kg verdien toe die karkas ook deur die Oysterbox gekoop is. Me. Regina Harmse van RHC Ile de France-stoetery by Ermelo het vanjaar, soos verlede jaar, weer die prys gewen vir die beste karkas uit Europese teelmateriaal. Hierdie karkas is vanjaar vir R175/kg aan Willowton Meats verkoop, terwyl die Oysterbox verlede jaar haar Ile de France-karkas vir R1 350/kg aangekoop het. Van die twaalf beste karkasse by vanjaar se kompetisie is slegs een karkas vir minder as R160/kg verkoop.
Die beste varkkarkas wat vir die kompetisie ingeskryf is, is uit PIC-teelmateriaal geteel deur Glenelly Varkboerdery, en het ’n punt van 93,41 behaal. Dit is vir R90/kg deur die Oysterbox-hotel aangekoop. Die reserweprys vir die varkkarkasse wat vir die kompetisie ingeskryf is, was R21/kg. Die reserweprys vir beeskarkasse was R45/kg en vir skaapkarkasse was dit R66,50/kg.
’n Toevoeging tot vanjaar se kompetisie was ’n Wagyu-karkas van 420 kg wat die SA Wagyu-beestelersgenootskap beskikbaar gemaak het om opgeveil te word. Die bod vir hierdie karkas het uiteindelik op R160 000 te staan gekom en is toegestaan aan Zingela Meats-slaghuis. Volgens mnr. Michael Bradfield, uitvoerende hoof van die SA Wagyu-beestelersgenootskap, was hulle tevrede met hierdie prys. “Ek glo ons sal beter kan doen in die toekoms.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.