
Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa) wat maandeliks ’n verslag saamstel oor veesiektes wat by veeartse reg oor die land aangemeld word, sê die oorsaak van die uitbrekings het almal te doen met die onwettige vervoer van beeste uit die beheerde gebied in Limpopo.
Sy kernboodskap in sy verslag is dat siektes in die veebedryf net onder beheer gebring kan word as almal binne die sektor vir diereproduksie saam gaan werk. “Die regte dinge moet gedoen word om die verspreiding van siektes te voorkom van elkeen se eie plaas af, tot die buurman se plaas, tot die streek en die hele provinsie.”
Hy sê die ideaal moet wees om elke plaas in ’n kompartement te omskep wat vry is van siektes soos bek-en-klouser, brucellose (ook bekend as besmetlike misgeboorte) en trichomonose. Boere moet onder meer voortdurend op die uitkyk wees vir kliniese tekens van siektes, siek diere moet geïsoleer word, ’n sertifikaat moet vereis word dat diere wat aangekoop word siektevry is, aangekoopte diere moet vir 28 dae in kwarantyn gehou word en daar moet ’n gesondheidsbestuursprogram met die samewerking van die plaaslike veearts wees. Die identifikasie en naspeurbaarheid van diere is van die grootste belang.
“Daar is ’n wetlike vereiste dat eienaars van voertuie nommerplate op hul voertuie moet hê. Daar is ’n soortgelyke vereiste dat elke bees met ’n geregistreerde merk gebrandmerk moet wees om eienaarskap te bewys en in die toekoms is daar ook die naspeurbaarheid deur middel van oorplaatjies.”
Mnr. James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê weens die uitbrekings van bek-en-klouseer is die noodsaaklikheid van ’n naspeurbaarheidstelsel nou van deurslaggewende belang.
“Internasionale handelsvennote en verbruikers dring toenemend op naspeurbaarheid aan. Om marktoegang te verseker het dit noodsaaklik geword, plaaslik sowel as internasionaal.” Hy sê daar is die afgelope tyd aansienlik vordering daarmee gemaak.
Malan verwys in sy verslag na die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se verslag oor bek-en-klouseer op 30 November, waarin aangedui word dat geen nuwe gevalle in November aangemeld is nie. Van die 191 gevalle wat sedert 2021 op plase, in voerkrale en in kommunale gebiede buite die beheerde gebied aangemeld is, is 8 opgelos en terug na normaal. Meer as 571 000 beeste is al teen die siekte ingeënt en meer as 50 000 uitgeslag.
Hy waarsku in die verslag dat die klem nie net op bek-en-klouseer moet wees nie. Beesbrucellose bly ook ’n groot probleem, want dit is ’n kuddesiekte en as een dier positief toets word die hele kudde as besmet beskou. Hy beskou ’n dier wat met brucellose besmet is as ’n tydbom wat ook menselewens bedreig. Mense moet nie fetusse, kalwers of nageboorte wat moontlik besmet is, sonder handskoene en oogbeskerming hanteer nie.
Malan sê as boere net aan die wetlike vereiste voldoen en hul diere inent, sal die voorkoms van die siekte drasties afneem. Die voorkomende maatreëls wat wetlik vereis word, is dat alle verse van vier tot agt maande oud eenmalig ingeënt moet word met ’n doeltreffende entstof teen brucellose. Hy wys daarop dat dr. Trudie Prinsloo, veearts en regsadviseur, ’n verslag oor al die wetlike aspekte rakende die bestuur van brucellose saamgestel het, en dat dit belangrik is dat boere daarvan moet kennis neem.
Met die nat toestande in groot dele van Suid-Afrika is die voorkoms van haarwurm op die oomblik ook ’n probleem in al negeprovinsies en dit lei tot baie vrektes. Daar is ook plase waar die haarwurms weerstand opgebou het teen alle bestaande aktiewe ontwurmingsmiddels en boere word aangeraai om raad van hul veearste te bekom oor middels wat nog doeltreffend kan werk in hul omgewing.
Ander siektes en toestande in die meeste van die provinsies sluit in bontpootbosluise, bloubosluise, rondewurms, anaplasmose, Asiatiese rooiwater, knopvelsiekte, bloednier, vuilbek, vratte en omlope.
Die veesiekteverslag is saamgestel uit 141 verslae deur veeartsenykundige praktyke en laboratoriums landwyd en sluit in 13 verslae uit Mpumalanga, 11 uit Gauteng, 7 uit Limpopo, Noordwes 14, Vrystaat 30, KwaZulu-Natal 13, Oos-Kaap 13, Wes-Kaap 20, Noord-Kaap 6, sowel as 2 voerkrale en 10 laboratoriums.
Die tabel toon watter vernaamste siektes en toestande in die maand by Ruvasa aangemeld is.