
Dit sluit metodes soos selektiewe teling, geneties aangepaste voer, metaanonderdrukkers en selfs die moontlikheid van ’n entstof in.
Dít blyk uit ’n artikel in die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jongste nuusbrief wat pas verskyn het. Die artikel verwys na navorsing wat in Nieu-Seeland by onder meer die Palmerston North-kampus van die Massey-universiteit gedoen word, wat die Nieu-Seelandse regering se onderneming gestand moet doen dat die kweekhuisgasse wat plaasdiere vrystel, teen 2050 met tot 47% verminder sal word.
“Navorsing in Nieu-Seeland is besig om dringender te raak. Boerdery is sentraal tot die ekonomie en ongeveer die helfte van die land se kweekhuisgasvrystellings kom van plase, vergeleke met minder as 10% in Amerika. Nieu-Seeland se 5 miljoen mense is ’n minderheid vergeleke met die 26 miljoen skape en 10 miljoen beeste in die land,” lui die artikel.
Die Nieu-Seelandse regering se planne om plaasdiere se gasvrystellings te belas, het ’n fel storm van kritiek vanuit die landbougemeenskap ontlok. Die regering van premier Jacinda Ardern moes in antwoord hierop sy aanvanklike voorstelle wysig. Die gewysigde voorstelle is net voor Kersfees ter tafel gelê. Die wysigings sluit onder meer in dat boere die belastings kan verminder deur bome op hul plase te plant. Daar is ook belowe dat die belastingkoers op metaangasvrystellings baie laag sal wees.
Die navorsing word gerugsteun deur studies van onder meer die staatsinstellings Ag Research en die New Zealand Agricultural Greenhouse Gas Research Centre, wat aantoon dat ’n verlaging in metaan bereik kan word sonder om die diere skade aan te doen of om die gehalte van die vleis of melk te benadeel.
Wetenskaplikes werk al die afgelope 15 jaar aan die ontwikkeling van ’n entstof, waarop daar in die afgelope vyf jaar intens gekonsentreer is. Dit het die potensiaal om die hoeveelheid metaan wat deur beeste vrygestel word, met 30% of meer te verlaag, luidens die RPO-artikel wat ’n onlangse nuusartikel in die Chicago Tribune as bron aanhaal.
’n Entstof kan die dier se immuunstelsel stimuleer om teenliggame te produseer wat die vrystelling van metaan-produserende mikrobes demp. Een groot voordeel van die entstof is dat dit waarskynlik net een keer per jaar toegedien sal moet word, of dalk selfs net eenkeer in ’n dier se leeftyd.
Onderdrukkers werk op ’n soortgelyke manier en bestaan uit verbindings wat aan die dier toegedien word wat ’n direkte demper op die metaanmikrobes plaas. Onderdrukkers kan metaan ook met ten minste 30% en selfs 90% verlaag, volgens die navorsers. Die kwessie is dat die verbindings veilig vir dierlike verbruik moet wees en nie deur melk of vleis na mense oorgedra word nie. Dit moet ook gereeld toegedien word.
Dit sal nog ’n aantal jare wees voor onderdrukkers en entstowwe gereed sal wees vir die mark, maar ander tegnologieë soos selektiewe teling, wat metaanuitset met 15% kan verminder, kan so vroeg as volgende jaar op Nieu-Seelandse plase bekend gestel word.
Wetenskaplikes toets al ’n aantal jaar lank skape in krale om verskille aan te teken in die hoeveelheid metaan wat vrygestel word. Daar word geteel met dié wat laer vrystellings het. Hul nageslag het ook dieselfde eienskap getoon. Verder is wetenskaplikes besig om boek te hou van die genetiese eienskappe wat kenmerkend is van laevrystelling-diere, sodat hulle maklik geïdentifiseer kan word.
Dierevoer is nog ’n teiken en wetenskaplikes glo dat dit die potensiaal het om die metaanuitset met 20% tot 30% te verminder.
Wetenskaplikes is besig om geneties aangepaste klawer in een van die kweekhuise op die kampus te ontwikkel. Hulle het dit reggekry om die tanniene in die klawer te verhoog, wat help om metaan te blokkeer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.