
Byvoeding is 'n belangrike faktor wat wildboere al meer moet oorweeg. Soorte voer, wat spesifiek daarop gemik is om in dié behoefte te voorsien, is verlede week tydens die Nampo-Oesdag naby Bothaville deur Opti Feeds bekend gestel.
Daar het ’n groot toename in kommersiële wildboerdery plaasgevind, veral wat buffels en uitheemse wildsoorte betref, sê Opti Feeds. Die maatskappy se Opti Game-reeks fokus spesifiek op dié twee soortewild. Die voere wat bekend gestel is, is die Opti Game Skaarswild- en die Opti Game Buffel-reeks.
“Byvoeding is veral noodsaaklik omdat wild deesdae plaasgebonde is en nie vryelik in die natuur rondbeweeg nie,” lui ’n verklaring. Die voere voorsien in dié behoefte en dit bevat ’n minimum van 15% proteïene en minder as 15% vesel. Dit is aanvullings in korrelvorm vir selektiewe vreters, wat beter resultate verseker en minder vermorsing tot gevolg het.
Onderskryf deur groot wildboer
Mnr. Piet du Toit, ’n wildboer, en een van die land se bekende telers van skaars wildsoorte, maak al sedert Januarie vanjaar van die voer gebruik. Hy beveel die reeks aan en het ook die bekendstelling bygewoon.
Volgens Du Toit lewer die voer uitstekende resultate. Hy sê die gehaltebeheer en standaarde wat Opti Feeds deur die helevervaardigingsproses volg, dra by tot die versekering van ’n puikproduk.
“Dit is vir Opti Feeds ’n voorreg om hierdie uitbreiding in die wildmark saam met Du Toit aan te pak. Ons is opgewonde oor die produk as ’n toevoeging tot die uitgebreide reeks produkte vir enkelmaag- en herkouerdiere waarvoor Opti Feeds reeds bekend is,” sê mnr. Jacques van Niekerk, bestuurder van Opti Feeds.