Teen druktyd was daar geen teken van die entstof wat op 10 Februarie in ’n mediaverklaring belowe is nie, en ook geen reaksie van OBP op navrae oor hoeveelhede of datums oor wanneer dit beskikbaar sal wees nie.
Dit is veral in die Oos-Kaap ’n bron van groot kommer. “Dit is die provinsie met die grootste getalle vee in Suid-Afrika en ons het ook die grootste aantal kleinvee-eenhede,” sê mnr. Günther Pretorius, bestuurder van natuurlike hulpbronne en ekonomie by Agri Oos-Kaap.
“Siektes soos bloutong en slenkdalkoors raak veral kleinvee. Ons boere loop nou kwaai deur onder die siektes en is besig om ernstige finansiële verliese te ly. “Uit ons opname onder 180 van ons lede het hulle aangedui hulle het dringend 260 000 eenhede entstof vir bloutong nodig, 49 000 vir slenkdalkoors, 800 vir Afrika-perdesiekte en 10 000 vir brucellose.”